
Eisbrief aan Minister van Landbou: VL en ander landbourolspelers neem regstappe oor BKS-entstowwe




Vrystaat Landbou (VL), saam met sleutelspelers in die landboubedryf, insluitend die Suider-Afrika Agri-Inisiatief (SAAI) en Sakeliga, het formele stappe deur hul regsverteenwoordiger begin om die staat se monopolie op die verkryging en toediening van bek-en-klouseer (BKS)-entstowwe te verbreek.
Die organisasies het vroeër vandeesweek 'n aanmaningsbrief aan die Minister van Landbou en senior regeringsamptenare gestuur waarin geëis word dat dit teen 30 Januarie 2026 skriftelik bevestig word dat veeboere private entstowwe mag verkry en toedien, in samewerking met staats- en private veeartsenykundiges. “Hierdie stap volg maande van stilte, onsekerheid en toenemende uitbrekings onder 'n volledig gesentraliseerde, staatsbeheerde stelsel wat duidelik misluk het,” sê Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou. “Die voortbestaan van Suid-Afrika se veeboerdery en vleisbedryf is nou direk in gevaar.”
Die betrokke organisasies verteenwoordig hul lede en ondersteuners met die doel om hul grondwetlike regte te beskerm, insluitend die reg om vrylik 'n beroep of handel te beoefen, die reg op eiendom en die reg op menswaardigheid. Volgens Wilken word hierdie regte tans ernstig geskend deur 'n bek-en-klouseer-uitbraak wat vinnig oor verskeie provinsies versprei het en reeds so buite beheer is dat die Minister van Landbou self aangedui het dat 'n nasionale ramptoestand oorweeg word.
Tydens 'n mediakonferensie op 14 Januarie 2026 het die Minister aangekondig dat die staat se strategie daarop gemik is om die hele nasionale veekudde in te ent. Boere wag egter steeds vir 'n duidelike, haalbare plan en tydlyn. “Ironies genoeg erken die Minister dat toegang tot entstowwe sentraal tot die oplossing is, terwyl daardie toegang steeds deur die staat beperk word,” sê Wilken.
Die aanmaningsbrief beklemtoon onder andere die volgende belangrike bekommernisse:
Volgens die rolspelers is daar betroubare entstofverskaffers wat gereed en in staat is om die privaatsektor te voorsien. “Om dit toe te laat, is die logiese en noodsaaklike stap om boere weer 'n mate van beheer en stabiliteit te gee,” sê Wilken. “Die situasie is so kritiek dat 'n beduidende deel van veeboere reeds die onmiddellike gevaar van totale sake-ineenstorting in die gesig staar. Die beskikbaarstelling van entstowwe aan die privaatsektor sal geensins die staat se toegang tot entstowwe benadeel nie.”
Wilken wys daarop dat nog 'n groot bron van kommer die vertraging is in die uitreiking van permitte kragtens Artikel 21 van die Wet op Medisyne en Verwante Stowwe, 1965 (Wet 101 van 1965) aan private maatskappye. Alhoewel die Minister beweer dat die private sektor reeds by invoere betrokke is, is daar onsekerheid of boere in staat sal wees om entstowwe direk te bekom en self toe te dien binne die bestaande netwerk van staats- en private veeartse. “Hierdie vertragings wek ernstige agterdog oor die opregtheid van die staat se optrede en moet onmiddellik aangespreek word,” waarsku Wilken.
Wilken beklemtoon verder dat die huidige regulasies en protokolle boere onredelik beperk om normaal te handel en finansieel te oorleef. “Hierdie reëls is nie vir die huidige werklikheid ontwerp nie en kan baie boere in finansiële ineenstorting dompel.”
“Dit is nie ”n tienjaar-beplanningsoefening nie. Dit is “n oorlog teen ”n virus,” sê Wilken. “Boere kan nie langer wag terwyl die siekte ongehinderd versprei nie. Die staat self het erken dat dit nie die kapasiteit het om hierdie krisis alleen te bestuur nie.”
“Indien geen gunstige reaksie teen die sperdatum ontvang word nie, sal verdere regstappe oorweeg word. Hierdie stap is uitsluitlik in belang van die bedryf, voedselsekerheid en die breër ekonomie geneem,” sluit Wilken af.
8Plasings
4Plasings
11Plasings
9Plasings
68Plasings
31Plasings
16Plasings
18Plasings
11Plasings
6Plasings
177Plasings
15Plasings
13Plasings