


Die tekortkominge wat tans by Veediefstaleenhede (VDE) in die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) deur boerderygemeenskappe in die Vrystaat bespeur word, dra by tot wat amper as ekonomiese sabotasie van die landbousektor beskou kan word. Dit is die mening van Vrystaat Landbou (VL) en die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO).
Jakkals le Roux, voorsitter van VL se Landelike Veiligheidskomitee, het sy kommer uitgespreek dat veediefstal nie deur die polisie as 'n prioriteit beskou word nie. “Vir boere lei hierdie situasie tot ekonomiese ondergang wat die landbousektor ernstig ondermyn. Dit is om nie te praat van die impak wat dit op opkomende en bestaansboere het nie”, sê Le Roux.
Volgens le Roux en Isabel Kruger, voorsitter van die Veediefstalvoorkomingsforum in die Vrystaat, neem die astronomiese tekorte aan hulpbronne toe, met geen daadwerklike ingryping van die polisie se topstruktuur nie. “Weens die tekorte word misdaadtonele nie doeltreffend ondersoek nie en speurders daag soms op dae nadat ’n saak aangemeld is. Dit dra dan daartoe by dat baie van hierdie veediefstalvoorvalle nie aangemeld word nie.”
Uit gevalle wat aangemeld is, is daar boerderygemeenskappe wat verliese van tot R10 miljoen per jaar rapporteer. Hoogs geteisterde gebiede van die Vrystaat, insluitend Brandfort, Ladybrand, Heilbron en Fouriesburg – is tans onder groot druk weens toenames in veediefstal. Grensdorpe wat veral langs die RSA / Lesotho-grens geleë is, gaan gebuk onder 'n groot toename in die tipe eiendomsverwante misdaad, sê dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-ontleder by VL.
“Veediefstal is 'n georganiseerde misdaad wat toenemend deur misdaadsindikate bestuur word”, sê Buys. “Om hierdie sindikate te stuit, is die betrokkenheid van ander rolspelers in die SAPD, soos die Valke, Organised Crime Unit en Crime Intelligence, nodig.”
Boere probeer om hul eiendom en veral vee sover moontlik te beskerm. VL en die RPO is van mening dat die Polisie hul wetlike verpligting moet nakom om die nodige mannekrag, voertuie en toerusting beskikbaar te stel om die voortbestaan van die landbousektor in die Vrystaat te verseker. “Die ingryping van die regering en die minister van polisie het krities geword om die tekortkominge aan te spreek.”
8Plasings
4Plasings
11Plasings
9Plasings
68Plasings
31Plasings
16Plasings
18Plasings
11Plasings
9Plasings
180Plasings
15Plasings
13Plasings