


”Daar is geen manier waarop ons die bek-en-klouseervirus met ’n risiko gebaseerde model sal oorkom nie,” sê Friedl von Maltitz, vise-president van Vrystaat Landbou (VL). Volgens hom is hierdie model ontwerp vir lande wat reeds bek-en-klouseervry is en slegs geïsoleerde uitbrekings ervaar – nie vir Suid-Afrika se huidige situasie nie.
Von Maltitz, wat in Februarie deur VL na Argentinië gestuur is om internasionale inentingstrukture te bestudeer, beklemtoon dat Suid-Afrika dringend 'n gekoördineerde massa-inentingsbenadering moet volg. “Lande soos Argentinië, Bolivia, Brasilië en Uruguay het hul uitbrake suksesvol bestuur deur gestruktureerde, sone-gebaseerde inentingsveldtogte. Dit behels die vinnige inenting van alle vee binne 'n gedefinieerde sone, gevolg deur 'n herhalingsdosis binne twee tot ses weke.”
Hy voeg by dat sistematiese inenting – om van die een kant van 'n sone na die ander te beweeg – noodsaaklik is om effektiewe kudde-immuniteit teen verdere verspreiding te vestig.
Die huidige benadering in Suid-Afrika, wat hoofsaaklik slegs positiewe plase en omliggende gebiede teiken, is volgens VL onvoldoende. “Teen die tyd dat staatsveeartse die betrokke plase bereik, het die virus reeds verder versprei. Daar is eenvoudig nie genoeg mannekrag onder staats- en privaatveeartse en dieregesondheidtegnici om voor die uitbrekingskurwe te bly nie.”
VL is verder van mening dat die huidige toewysing van entstowwe – hoofsaaklik aan suiwel-, buffel- en varkprodusente, sowel as voerkrale – dui op 'n gefragmenteerde en ongekoördineerde strategie wat te veel gapings laat vir die virus om verder te versprei.
Intussen beklemtoon Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou, dat die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid (WOAH) duidelike riglyne vir massa-inentingsprogramme verskaf. “Op hierdie stadium is daar geen sigbare, gestruktureerde nasionale plan in plek nie. Met die verhoogde beskikbaarheid van entstowwe in die land is dit nou van kritieke belang dat 'n omvattende en gekoördineerde strategie geïmplementeer word. Geen ander land wat uitbrake van hierdie skaal in die gesig staar, maak staat op 'n risiko gebaseerde model nie.”
VL doen 'n dringende beroep op owerhede om die huidige strategie dringend te herevalueer en 'n effektiewe, wetenskaplik-gebaseerde nasionale inentingsplan te implementeer om die land se veebedryf te beskerm.
8Plasings
4Plasings
11Plasings
9Plasings
68Plasings
31Plasings
16Plasings
18Plasings
11Plasings
12Plasings
184Plasings
16Plasings
13Plasings