Nuus

Lidmaatskap

Vrystaat Landbou (VL) is elke lid wat kies om betrokke te raak in sy of haar plaaslike landbougemeenskap deur by ʼn aktiewe landbouvereniging aan te sluit.

Rampfonds

Help ons boere terug op hul voete

VL Daag Staat se Entstofbenadering in die Hof

deel hierdie plasing

Vrystaat Landbou (VL) het bevestig dat hy, saam met die Suider-Afrika Agri-Inisiatief (SAAI) en Sakeliga, 'n dringende aansoek in die Hooggeregshof in Pretoria vir tussentydse verligting teen die Minister van Landbou, die Departement van Landbou en die Direkteur van Dieregesondheid gebring het. Volgens Francois Wilken, president van VL, vorm hierdie aansoek deel van 'n breër hersieningsproses waarin die wettigheid, rasionaliteit en grondwetlikheid van sekere bek-en-klouseer-maatreëls, veral rondom entstowwe, bevraagteken word.

Vrystaat Landbou neem met ernstige kommer kennis van die voortgesette verspreiding van bek-en-klouseer (BKS) en die verwoestende ekonomiese impak wat dit op veeboere en die breër landbouwaardeketting het. “Die huidige situasie bedreig nie net die lewensbestaan van individuele produsente nie, maar ook voedselsekerheid, werksgeleenthede en landelike ekonomieë,” sê Wilken.

Die kern van Vrystaat Landbou se standpunt is dat boere nie verhinder moet word om hul eie diere te beskerm waar hulle die kapasiteit het om dit wettiglik en verantwoordelik te doen nie. “In 'n tyd wanneer die staat self kapasiteitsuitdagings erken en die siekte reeds wydverspreid is, is dit onaanvaarbaar dat private inisiatief en hulpbronne effektief geblokkeer word.”

VL voer aan dat die huidige benadering, wat die invoer en beskikbaarheid van entstowwe beperk en boere verhoed om parallel met die staat op te tree, die krisis vererger en die risiko van verdere verliese verhoog. 'n Model waarin die staat, die private sektor en produsente saam optree, is noodsaaklik om die pandemie effektief te bestuur, meen VL.

“Ons doen 'n beroep op die regering om 'n inklusiewe, wetenskaplik gebaseerde en prakties uitvoerbare strategie te volg wat alle beskikbare kapasiteit mobiliseer om die verspreiding van bek-en-klouseer te bestry,” sê Wilken.

Vrystaat Landbou sal die situasie steeds noukeurig monitor en sy lede ondersteun om hul diere en bedrywighede binne die raamwerk van die wet te beskerm.