


Vrystaat Landbou (VL) het sy kommer uitgespreek oor die hernieude politieke en wetgewende fokus op grondhervorming, veral die moontlikheid van verdere grondwetlike en wetgewende wysigings, in 'n tyd wanneer Suid-Afrika reeds onder groot ekonomiese druk verkeer.
Onlangse verklarings uit regeringskringe wek verdere kommer. Advokaat Ngwako Maenetje, senior advokaat wat president Cyril Ramaphosa verteenwoordig, het vroeër vandeesmaand in die Wes-Kaapse Hooggeregshof aangevoer dat die Onteieningswet grondhervormingsmaatreëls in die Grondwet behoorlik implementeer. Die Minister van Landelike Ontwikkeling het ook aangedui dat verdere wetgewing, insluitend die voorgestelde Wet op Billike Toegang tot Grond, oorweeg word om onder andere te verseker dat distrikte die demografie van Suid-Afrika weerspieël.
Dit laat die vraag ontstaan wat die werklike beleidsdoelwit van die nuwe onteiening- en grondhervormingsraamwerk werklik is?
Friedl von Maltitz, vise-president van VL, sê: “Boere is herhaaldelik gerusgestel dat die Onteieningswet nie daarop gemik is om grondhervorming deur onteiening te dryf nie. Wanneer regeringsverteenwoordigers egter self grondhervorming en herverdeling as doelwitte van die breër wetgewende raamwerk voorhou, is dit onvermydelik dat grondeienaars en beleggers verdere onsekerheid ervaar.”
Von Maltitz sê verder dat VL 'n billike, grondwetlike en ekonomies volhoubare grondhervormingsproses ondersteun. “Na ongeveer 30 jaar van grondhervorming moet Suid-Afrika egter eerlik vra watter modelle werklik werk. Daar is suksesverhale, maar ook talle gevalle waar staatsgedrewe nuwe opkomende boereprogramme nie die verwagte volhoubare produksie en ekonomiese waarde gelewer het nie.”
Intussen wys Gernie Botha, uitvoerende hoof van VL, daarop dat die organisasie ook bekommerd is oor moontlike nuwe bevoegdhede vir munisipaliteite om grond vir openbare doeleindes te identifiseer en te verkry, insluitend grondhervorming. Dit moet beoordeel word teen die agtergrond van die Ouditeur-Generaal se jongste bevindinge oor ernstige bestuurs- en finansiële probleme in plaaslike owerhede. “Instellings wat sukkel om bestaande verantwoordelikhede na te kom, moet nie verdere indringende bevoegdhede oor private eiendom kry sonder voldoende kapasiteit en verantwoordbaarheid nie.”
Beleidsonsekerheid het 'n direkte ekonomiese koste.
Landbou lewer 'n belangrike bydrae tot Suid-Afrika se ekonomie, voedselsekerheid en landelike werkskepping. Onsekerheid oor eiendomsregte, grondgebruik en toekomstige beleid ontmoedig langtermynbelegging en benadeel nie net grondeienaars nie, maar ook finansiers, insetverskaffers, werknemers en nuwe toetreders tot die landbou.
VL is dus bekommerd dat toenemend gepolariseerde politieke verklarings oor grond rasseverhoudinge kan verswak. “Grondhervorming moet nie 'n instrument word wat landelike gemeenskappe teen mekaar opstel nie. In 'n tyd van plaasaanvalle, landelike misdaad en ekonomiese druk, moet politieke leiers eerder vertroue, samewerking en stabiliteit bevorder,” sê Von Maltitz.
Die organisasie doen dus 'n beroep op die regering om grondhervorming te beoordeel op grond van produktiwiteit, werkskepping, voedselsekerheid, ekonomiese volhoubaarheid en die sukses van nuwe boere, eerder as bloot die hoeveelheid grond wat oorgedra word.
“Suid-Afrika het nie nog 'n ronde van beleidsonsekerheid nodig nie. Ons benodig regsekerheid, beleggingsvertroue en 'n landbousektor wat meer mense in staat stel om suksesvol aan die ekonomie deel te neem. VL is bereid om konstruktief te werk aan grondhervorming wat billik, grondwetlik, ekonomies volhoubaar en tot voordeel van alle Suid-Afrikaners is.”
8Plasings
4Plasings
11Plasings
9Plasings
68Plasings
31Plasings
16Plasings
18Plasings
11Plasings
14Plasings
186Plasings
16Plasings
13Plasings
Sluit vandag by ons aan vir die vryheid om met gemoedsrus te boer.