


Vrystaat Landbou (VL) het die dringende uitspraak van die Pretoriase Hooggeregshof verwelkom, wat die Minister van Landbou verplig om 'n skema te finaliseer wat private inenting teen bek-en-klouseer (BKS) toelaat. Dit is 'n beduidende verskuiwing van sy departement se vorige standpunt.
Volgens Francois Wilken, president van VL, het die hof die Minister gelas om die skema – wat op die nippertjie by die hof ingedien is – teen 17 April 2026 te promulgeer en die saak is uitgestel tot 28 April 2026. Die Minister is ook gelas om koste te betaal, met die hof wat skerp kritiek uitgespreek het op vertragings en laaste-minuut voorleggings deur die Departement van Landbou.
Hierdie ontwikkeling volg op 'n dringende aansoek wat deur VL, Sakeliga en SAAI ingedien is om te keer dat die regering die private verkryging en toediening van bek-entstowwe belemmer.
“Tot vandag toe het die Minister private inenting teengestaan en onder eed volgehou dat slegs staatsgerigte inenting deur gemagtigde amptenare toegelaat word. In 'n laaste-minuut-voorlegging aan die hof is 'n konsepskema egter ingedien wat – vir die eerste keer – voorstel dat private inenting onder leiding van private veeartse en sonder direkte staatstoesig uitgevoer kan word,” het Wilken gesê.
“Hierdie skielike verskuiwing bevestig wat ons heeltyd aangevoer het – daar is geen wettige basis om die privaatsektor se deelname aan bek-en-klouseer-inenting te verhoed nie,”.
Alhoewel die konsepskema 'n stap in die regte rigting is, is VL van mening dat dit onvolledig bly en ernstige kommer wek. Bepalings wat die verkryging van entstowwe sentraliseer en breë diskresionêre bevoegdhede aan die Minister verleen, loop die risiko om dieselfde beperkings te laat voortduur wat reeds ernstige ontwrigting in die landbousektor veroorsaak het.
Hofintervensie bring aanspreeklikheid
“Die feit dat hierdie voorstel slegs onder druk van litigasie gematerialiseer het, is kommerwekkend. Boere kan nie beleidsverlamming bekostig terwyl die siekte versprei en verliese toeneem nie.”
Die hof se ingryping plaas nou duidelike wetlike verpligtinge en sperdatums op die Minister — 'n kritieke stap in die rigting van die herstel van sekerheid in die veebedryf.
Vrystaat Landbou benadruk dat private inentingskapasiteit noodsaaklik is om die verspreiding van bek-en-klouseer doeltreffend te bestry. Vertragings, onsekerheid en inmenging in die verkryging van entstowwe het reeds gelei tot aansienlike produksie verliese en verhoogde risiko regdeur die sektor.
8Plasings
4Plasings
11Plasings
9Plasings
68Plasings
31Plasings
16Plasings
18Plasings
11Plasings
9Plasings
180Plasings
15Plasings
13Plasings