Digicoms

Nuusflitse - Oktober 2020 - VL eis dringende aksie teen korrupte SAPD-lede

VL eis dringende aksie teen korrupte SAPD-lede

Francois Wilken, President van Vrystaat Landbou (VL) het op 12 Oktober 2020 in ʼn memorandum aan senior Vrystaat staatsamptenare, LUR Polisie, Paaie en Vervoer, Sam Mashinini en LUR Landbou en Landelike Ontwikkeling, William Bulwane, geëis dat dringende aksie deur die regering geneem moet word om die vlaag plaasaanvalle op boere en plaaswerkers te stop.

Wilken sê dat VL enige gewelddadige kriminaliteit  in die algemeen veroordeel, insluitend geweld teen vroue en kinders, maar spesifiek geweld teen boere en plaaswerkers.

In die memorandum eis landbou dat:

  1. Deeglike ondersoek na die korrupte polisie-amptenare geïmpliseer in veediefstalsindikate uitgevoer word. VL se Bethlehem Landelike Veiligheidskoördineerder het reeds ’n verslag met inkriminerende bewyse aan die Valke oorhandig. VL is oortuig dat daar ʼn direkte korrelasie tussen veediefstal en plaasaanvalle is.
  2. Aksie geneem word teen enige groepe en politiese partyverteenwoordigers wat boere as gronddiewe en uitbuiters etiketteer wat die geweld en rassehaat aanhits. Dit moet onmiddellik gestop word!

“VL strewe na stabiliteit en ’n vreedsame samelewing tussen alle gemeenskappe, swart en wit.” het Wilken gesê.

Die landbougemeenskap sal met die owerhede saamwerk, maar sal ook op ons eie voortgaan waar nodig.