Digicoms

Nuusflitse - April 2020

 

 


Landbou moet gereed wees vir opofferings en aanpassings 

Landbou is in die bevoorregte posisie om as ’n essensiële diens redelik normaal voort te gaan. Daar is egter uitdagings wat deurlopend aangespreek moet word. Francois Wilken, president van Vrystaat Landbou (VL), sê dat landbou nie fokus moet verloor rondom die gevare en impak wat die COVID-19 pandemie op die sektor kan hê nie. “Die einde is nog lank nie in sig nie. Landbou moet besef dat  opofferings en aanpassings gemaak sal moet word, wat maande en selfs jare kan neem om te normaliseer”, waarsku Wilken.

Hy meen dat die verslapping van die inperking meer fokus op die werksplek gaan plaas, hoofsaaklik met die die doel om te verseker dat regulasies nagekom word om die verspreiding van die virus te beperk.

Volgens Wilken was die doel van die inperking hoofsaaklik om betyds voor te berei en aksies in plek te kry om die impak van hoë virus infeksies te hanteer. Wilken noem dat landbou aan aksies sal deelneem wat verseker dat die risiko binne die werksplek  so ver moontlik beperk word. “Dit is ons keuse om deel te neem (aan aksies) of self ons werkers van die nodige (PPE,ens.) te voorsien.” Wilken noem dat landbouers moet seker maak dat hulle voorbereid is vir wat kom, met verwysing na die moontlike verspreiding van die virus.

“Op die ou einde moet elkeen sy eie verantwoordelikheid dra. VL se doel is om sy lede by te staan en so ver moontlik te bemagtig .” 


Volg diè stappe vir inspeksies deur Departement Arbeid 

 

Volgens Gernie Botha, Regsadviseur van Vrystaat Landbou (VL), het die einde van die Vlak 5-inperkingstyd wat betref die COVID-19 virus pandemie op 30 April tot ‘n einde gekom. Botha sê dat verskeie wysigings aan die Regulasies in terme van die Wet op Rampbestuur aangebring is en is ‘n kort opsomming van die vernaamste wysigings hier beskikbaar.

VL het reeds ’n magdom inligting met lede gedeel, maar dit is tog belangrik dat die werkgewer in die landbousektor, as ‘n essensiële diensverskaffer, sekere stappe in plek moet hê vir doeleindes van verantwoordelikheid teenoor hul werknemers. Vir hierdie doel voorsien ons u graag met Agri SA se kontrolelys ten opsigte van inspeksies deur die Departement van Indiensneming en Arbeid, asook riglyne oor wat om te doen indien u as werkgewer vermoed dat daar moontlik ’n geval van COVID-19 in die werksplek is. Die jongste riglyne wat betref ‘n veilige werkplek, veral in die lig van die opheffing van die inperking in sekere sektore, kan hier afgelaai word.

Die kontrolelys kan hier afgelaai word. 

Die riglyne indien u 'n Covid-19 geval vermoed is hier beskikbaar.  


Besending PPE’s aan plaaswerkers beskikbaar gestel 

Vrystaat Landbou (VL) het op versoek van Fanie Minnie, waarnemende hoof direkteur van Departement Landbou, Landelike Ontwikkeling en Grondsake, op 23 April ’n blits opname onder lede gedoen oor die aantal werkers op elke plaas. Die doel van die opname was om in aanmerking te kom vir Persoonlike Beskermende Toerusting (PPE’s) vir plaaswerkers. Die strukture van georganiseerde landbou het goed saamgewerk en die inligting is teen spertyd aan VL deurgegee.

Die Ouditeur Direkteur het egter met ontvangs van die inligting aangedui dat verdere inligting oor die begunstigdes benodig word. Die eerste besending PPEs (byna R1 miljoen) vir plaaswerkers is deur die staat beskikbaar gestel om te help om die verspreiding van die Covid-19 virus in landelike gebiede te help beheer.

VL moes op versoek van Minnie dus ’n tweede opname onder lede versprei. Die resultate is direk aan Minnie gestuur en sal die verspreiding van die besending deur middel van VL-strukture vanaf ’n sentrale landbouvereniging op elke dorp versprei word. 


Mieliediefstal neem toe; VS landbouers loop erg deur 

Mieliediestal in die Vrystaat het, ondanks die inperkingsperiode, die laaste paar weke geweldig toegeneem en geskatte verliese beloop miljoene. Dit hoewel die oorgrote meerderheid van hierdie soort diefstal nie eers deur landbouers aangemeld word nie. 

 

Dit is van die bevindinge uit ’n onlangse opname wat Vrystaat Landbou (VL) onder sy lede oor mieliediefstal in die provinsie gedoen het. Volgens Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van VL, is die opname vir die tydperk van Maart en April 2020 gedoen en ly landbouers geweldige finansiële verliese.

VL het die opname aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gestuur vir aandag op provinsiale vlak, sodat die polisie landbouers behulpsaam kan wees in die bekamping van mieliediefstal.

Volgens Buys versoek VL landbouers wat hierdie diefstal ervaar om dit tydens die inperkingsperiode aan die JOCs in hul areas, asook na Veiligheidsverteenwoordigers of VL se Veiligheidslessenaar, deur te gee. Die versoek is sodat die SAPD en Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag kan help om dit aan te spreek. 

Die opname toon daar het tussen 383 (die minste gevalle) en 631 (die meeste gevalle) insidente van mieliediefstal in die ses of sewe weke periode, wat die inperkingsperiode insluit, voorgekom. Dit het by 23 dorpe en 43 landbouers in die Vrystaat gebeur.

Volgens Buys is die geskatte verliese van hierdie insidente sowat R 1,653 miljoen. Sy sê dit ten spyte daarvan dat 82,32% van landbouers nie mieliediefstal aanmeld nie.

Boonop reken landbouers dit is ’n georganiseerde misdaad. “Sowat 76,74% van die landbouers of respondente is dit eens dat mieliediefstal op ’n georganiseerde wyse deur groeperinge gepleeg word,” sê Buys. Die misdadigers het byvoorbeeld spesifieke afsetgebiede of markte en werk in groepe.

Ander bevindinge van die VL opname:

  • Ongeveer ’n derde van landbouers (62,79%) meld dat minderjariges by die pleging van mieliediefstal vanaf landerye betrokke is.
  • 58,14% van landbouers/respondente handhaaf die opinie dat die motief vir mieliediefstal nie weens kosnood is nie.
  • Oorgrote meerderheid van landbouers/respondente het nie wagte aangestel om hul landerye te help beskerm nie, grootliks weens die groot finansiële uitgawe (74,42%).
  • 93,02% van landbouers is betrokke in die uitvoering van wit- en bloulig-patrollies om die polisie behulpsaam te wees met misdaadvoorkoming of bekamping in landelike gebiede.
  • Dit kos 27 landbouers tussen R1 000 tot R10 000 per maand om wit- en bloulig patrollies in landelike gebiede te ry (62,79%), terwyl dit 5 landbouers tussen R10 000 tot R30 000 per maand kos (11,63%).
  • 89,37% (amper 90%) van landbouers meen dat misdaadvoorkomings-aksies nie deur die polisie van stapel gestuur word om van hulp te wees om die mieliediefstal aan te spreek nie.
  • 97,67% van die landbouers is dit eens dat daar nie teen die informele mieliesmouse in dorpsareas opgetree word nie (deur beide die polisie en die munisipaliteit).
  • 89,37% van landbouers meld dat mieliediefstal-sake nie suksesvol in howe vervolg word nie.  
  • Geskatte verliese wat Vrystaat boere kan lei weens mieliediefstal (5 598 mielie boere) kan dus tot R234 miljoen in een seisoen wees.

Veediefstal erger in diè areas 

 

Alhoewel sekere geografiese areas van die Vrystaat ’n afname in veediefstal en ander misdade toon, loop areas soos Bethlehem, Dewetsdorp, Harrismith en Heilbron ongelukkig erg onder veediefstal deur gedurende die inperkingsperiode. Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), het bevestig dat daar ook gevalle langs die Lesotho-grens is waar vee oorgrens gejaag word.

VL doen ’n ernstige beroep op landbouers om steeds paraat te wees tydens die inperkingsperiode  t.o.v. verdagte voertuie en persone in hul areas wanneer hul witlig patrollies ry op hul eie plase. Buys versoek dat enige inligting aan veiligheidsverteenwoordigers en die polisie deurgegee word vir die nodige opvolg na die JOC’s in hul onderskeie areas. Landbouers moet kennis neem dat die slagting van vee problematies is en word daar voorsien dat dit moontlik meer gereeld tydens die inperkingsperiode kan voorkom.   


Misdade op landbougrond gedurende inperkingstydperk 

VL het ‘n verslag uitgebring wat die misdade vir Maart 2020 asook die misdaadprent in die eerste week van inperking weergee. Sekere veiligheidsverteenwoordigers gee gereeld misdaadinsidente na hul veiligheidsverteenwoordigers en VL Veiligheidslessenaar deur. Een plaasaanval, waar ’n plaaswerker in die Hobhouse-area aangeval is, is vir April 2020 aangeteken.

Jakkals le Roux, Voorsitter van VL se Veiligheidskomitee, versoek landbouers om misdade asseblief aan te meld sodat dit na die onderskeie JOC’s deurgegee kan word. Alle misdade op landbougrond is hier ter sprake. 


 Veiligheidsverteenwoordigers ontevrede met Vrystaat Kriminele Strafregstelsel  

Die Kriminele Strafregstelsel (KRS) in die Vrystaat, wat Justisie (landdroste) en die Nasionale Vervolgingsgesag/ aanklaers insluit, se funksionering is nie voldoende nie.

 

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou(VL), noem dat talle bekommernisse na vore gekom het uit ’n opname wat VL onlangs onder sy Veiligheidsverteenwoordigers gedoen het. Die opname het hoofsaaklik oor die Landelike Beveiligingstrategie (LBS) gegaan. Die grootste meerderheid van die Veiligheidsverteenwoordigers (90,8%) het aangedui dat hulle nie tevrede is met die funksionering van die Kriminele Strafregstelsel (KRS) in die Vrystaat nie.

Die opname het ook aangedui dat die veiligheidsverteenwoordigers meen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) beskik nie oor genoegsame hulpbronne om misdade in die landelike gebiede te bekamp of te bestry nie (96,25%). Dit is veral die afdelings sigbare polisiëring (Sigpol) en misdaadintelligensie se vermoëns (60,25%), gevolg deur die speurders (55,12%), met wie die grootste probleme ondervind word. Veiligheidsverteenwoordigers is van mening dat Sigpol so vinnig as moontlik die misdaadtoneel moet besoek (83,33%), dat hul spesialiste moet laat uitkom na die misdaadtoneel (56,94%) en dat ’n volledige A1-verklaring by die landbouer afgeneem moet word (54.17%). Veiligheidsverteenwoordigers meen ook dat opleiding t.o.v. misdaadtoneel-bewaring en ondersoek binne polisiegeledere tekort skiet.

Daar is ‘n behoefte uitgespreek dat strenger dissipline binne die polisie sal plaasvind, veral t.o.v. bevel, beheer en verantwoordbaarheid van voertuigbestuurders. Beriggewer-netwerke en misdaadintelligensie se vermoëns in landelike gebiede moet verkieslik uitgebrei word.

Verdere bevindinge wat vanuit die opname na vore gekom het

  • Veiligheidsverteenwoordigers is dit eens dat die grootste tekortkominge wat ondervind word t.o.v. veediefstal opgesom kan word as:
  • die spoedige bywoning van die misdaadtoneel deur die speurders is (veediefstal, opvolg van inligting, spore, terugkry van vee, arrestasies – 84,51%)
  • die ontbied van die hondemeesters/deskundiges na die misdaadtoneel (59,15%)
  • gereelde terugvoer en kontak aan die klaer deur die speurder (57,75%).

Verder is dit gemeld dat die vroeë afsluiting van dossiere as onopgespoor, sonder die doeltreffende opvolg van inligting by bure, plaaswerkers en in dorpsareas problematies is. Dit blyk ook dat  vergelykings en verbindinge van sake om kriminele vas te trek nie gedoen word  nie.

  • Op die vraag oor hoe misdade deur die polisie aangespreek moet word, was die persepsie oorwegend dat meer kundige personeel bendog word. Ondersoek van misdade/sake, die verbinding van sake (70,51%), gevolg deur groter sigbaarheid i.t.v. mannekrag en voertuie in landelike gebiede (60,26%) is uitgewys. Verder is ‘n behoefte vir beter funksionering van die strafregstelsel met genoegsame bewyslas en swaarder vonnisse in howe (53,85%) uitgespreek.
  • 87,01% van die Veiligheidsverteenwoordigers het aangedui dat hulle nie tevrede is met die funksionering van die howe in die Vrystaat nie. Die grootste frustrasie wat hul ervaar is dat sake gereeld uitgestel word (81,33%), dat borg aan gewoonte-misdadigers gegee word (66,67%) en dat sake in die howe te lank vat om afgehandel te word (64%).

Verder was dit gemeld dat onopgeleide en onbevoegde aanklaers problematies is, veral t.o.v. terugtrek van sake waar genoegsame ondersoek en bewyslas ontbreek. Dit is ook kommerwekkend dat pleitooreenkomste aanvaar word waar sekere kriminele vrygelaat word om steeds met hul misdade voort te gaan.

  • Die opname het getoon dat die grootste misdaadbedreiging in landelike gebiede veediefstal (94,59%) is, gevolg deur plaasaanvalle/ ernstige geweldsmisdade (51,35%) en skroot- koper- en kabeldiefstal (47,30%).
  • Op die vraag wat landbouers moet doen om misdaad effektief in hul area aan te spreek, was die antwoord dat hulle eerstens hulle eie veiligheid moet opskerp (verharding van huis en haard) met pro-aktiewe alarmstelsels (86,11%); dat hul moet inskakel by ’n landbouvereniging, sektore of veiligheidsnetwerke (73,61%); dat hulle betrokke moet raak by gemeenskapspolisiëring soos die ry van wit- en bloulig patrollies (72,22%) in landelike gebiede.
  • Ten einde veediefstal te voorkom, het die opname die noodsaaklikheid van ’n veeregister asook die gereelde tel van vee bevestig (68,18%). Verder is dit ook belangrik dat vee gemerk moet word na gelang van wetgewing (69,70%) en dat alle misdade spoedig aangemeld moet word by die polisie vir effektiewe ondersoek (62,12%).
  • Op die vraag wat Veiligheidsverteenwoordigers van georganiseerde landbou strukture verwag, was die mees algemene antwoord ’n ondersteuningsrol tot die strafregstelsel t.o.v. bekamping en voorkoming van misdade op landbougrond (67,18%), gevolg deur druk op die strafregstelsel vir meer mannekrag en toerusting in landelike gebiede (veral die skep van ’n landelike beveiligingseenheid) (57,81%) en die daarstel van kamera-netwerke in landelike gebiede met behulp van Agri Securitas befondsing (56,25%).
  • Op die vraag wat landbouers/Veiligheidsverteenwoordigers van die RPO/NKWV/bedrywe verwag, dui dit eerstens op die daarstel van ’n naspeurbaarheidstelsel vir diere-identifikasie (60%). Daar is verder ‘n behoefte getoon vir opleiding en hulp aan opkomende landbouers by kommunale areas t.o.v. die merk van vee, inligting oor siektes, ens. (50%). Die bedryf van provinsiale Veediefstal-voorkomingsforum met alle rolspelers (55%) is ook uitgewys.

Landbou geniet ondersteuning uit verskeie oorde

Suid-Afrika, tesame met die res van die wereld, verkeer tans onder enorme druk weens die Covid-19 pandemie. Die realiteit is dat dinge na die inperkingsperiode nie outomaties na normaal gaan terugkeer nie. Plaaslike markte is geaffekteer, verbruikerskrag is heelwat minder weens werksverliese en herprioritisering en misdaad eis ook sy tol. Dr Jack Armour, Operasionele Bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), sê dat die landbousektor ten spyte van al die uitdagings redelik beter as ander sektore vertoon en word hulp binne die sektor geredelik beskikbaar gestel.

Die markstelsel word indirek dwarsdeur die waardeketting onderhou danksy finansiële ondersteuning van begunstigdes van sosiale toelaes. Sodoende kan die eindverbruiker nog die verwerkte produkte wat deur landbou geproduseer word aankoop.  

Een voorbeeld van ondersteunende hulp, is Sernick se skema vir alle nuwe toetreders tot landbou. Dit bied byvoorbeeld ondersteuning aan nuwe toetreders d.m.v. inligting om kuddes te verbeter, weidingsbestuur, en meer. (sein aansoek vorm aangeheg)

Die Departement van Landbou het ’n Covid-19 ramphulpprogram vir landbouers met ‘n omset minder as R1 miljoen aangekondig. VL  het die nodige inligting via sy strukture versprei en talle VL-lede het aansoek gedoen. Die  Departement Landelike Ontwikkeling is ook tans besig om maskers (PPE’s) aan landbouers, wat aansoek gedoen het, beskikbaar te stel om hulself en hulle plaaswerker teen die Covid-19 virus te beskerm.  

Inligting vanaf die Departement Arbeid is aan lede gestuur oor toelaes op Werkloosheidversekering (UIF)  en die TERS-stelsel. Daar is ook belastingvergunnings deur Tesourie bekend gestel.

Kommersiële banke en landboubesighede is deuglik bewus van die impak van die Covid-19 pandemie op landbou en versoek dat kliënte vroegtydig met hulle reëlings moet tref vir paaiement uitstellings of oorbruggingsfinansiering.

'n Aanlyn bespreking oor hoe die markpryse kan beweeg, word  op 7 Mei deur prof Johan Willemse gelei tydens sy gewilde kwartaallikse markvooruitsigte werkswinkel. Skakel Marlene op 0833818011 of Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees. om te bespreek.


Behoeftes en frustrasies in landbou weens inperking geïdentifiseer 

Vrystaat Landbou (VL) het onlangs ‘n opname onder lede gedoen oor hul frustrasies, behoeftes, huidige en potensiele finansiële verliese as gevolg van die Covid-19 inperking. Die opname het 'n statisties beduidende reaksiesyfer van meer as 10% (>300 van ons 3000+ lede) behaal, met eweredige verspreiding oor die 5 distriksmunisipaliteite en 'n relatiewe egalige verdeling oor munisipaliteite.

  1. Een van die behoeftes wat na vore gekom het, was dat georganiseerde landbou namens lede/ landbouers met landboubesighede, banke en versekeringsmaatskappye onderhandel om finansiële verligting te beding. Genoemde voorstelle sluit in die uitstel van betalings en verslapping van betalingsvoorwaardes, verlaagde of gesubsideërde premies ens.
  2. ’n Verdere behoefte (vir landbouverenigings) was om in samewerking met landboubesighede by plaaslike takke hulp te versprei waar dit die nodigste is, deur op ‘n gekoördineerde en regverdige wyse met bestaande grondvlakstrukture soos die polisie, gesondheidswerkers, kerke, ens, hande te vat.
  3. Die grootste frustrasies wat landbouers ervaar is dat hulle nie alle benodigdhede van verskaffers kan kry nie, die beperking op veilings en die vervoer van arbeid.

VL het die uitslae van die opname met die hoofbestuur van landboubesighede, banke en versekeringsmaatskappye gekommunikeer en verneem hoe hulle die sake gaan aanspreek asook waar samewerking nodig is.

Agri SA het ook ‘n brief aan die Minister van Landbou gerig wat die en ander kwessies, soos deur die provinsiale unies uitgewys is, aanspreek. 


Gee eerder hulp aan werkloses, sê VL 

Talle huisgesinne in die informele nedersettings kry baie swaar en daarom het die Dagbestuur van VL die besluit geneem dat hulp, in die vorm van kospakkies, eerder na hulpbehoewende gemeenskappe as na plaaswerkers moet gaan. 

Die rede vir die besluit, volgens dr Jack Armour (Operasionele Bestuurder van VL), is omdat die meeste plaaswerkers tans kan werk en betaling ontvang weens die feit dat landbou ’n essiensiële diens is. Landbouers kan dus verseker dat werkers goed versorg is en sorgvuldig opgelei is oor die gesondheidsmaatreëls soos in die COVID-19 regulasies vervat.  Armour noem dat VL van mening is dat hulpverlening soos kospakkies deur staatsamptenare, NGO’s, ens. eerder aan die dorpsgebiede geteiken moet word waar die werkloosheid heelwat groter is. 

Armour versoek dat, indien enige hulpverlening op plase of toegang tot plase in hierdie tyd moet plaasvind, die Protokol vir toegang tot Plase gevolg moet word.  

Armour stel voor dat die volgende as riglyne gebruik word indien hulpverlening toegepas word:

- Plaaslik gekoördineer deur alle gemeenskapsleiers

- Identifiseer ’n sentrale punt vir donasies en versprei van daar

- Streng monitering – register hou van wie kry wat – ID’s van begunstigdes, rekord van skenkings ontvang

- Samewerking met plaaslike kliniek, gebruik van gesondheidswerkers vir identifisering van nood en distribusie

Hoe VL namens sy lede beding:

- JOC strukture van plaaslik na distrik na Provinsiaal, tot Nasionaal via Zoom vergadering elke 2de dag

- VL Dagbestuur vergader weekliks via Zoom, maar is daagliks in verbinding

- Jack Armour dien op Agri SA Sentrum van Uitnemendheid: Grond subkomitees (Verblyfreg en Finansiering)

- Gernie Botha, Regsadviseur van VL, stuur weekliks ’n opsomming van kern kwessies aan Agri SA vir bespreking

- VL bly steeds op hoogte van beleid- en wetsontwerpe (SUPRA)

- VL beding op regulasies en help met interpretering en verspreiding via streekverteenwoordigers 

- Veiligheid geniet deurlopend aandag d.m.v. skakeling/interaksie met veiligheidsverteenwoordigers, VL se Landelike Veiligheidskomitee vergader twee weekliks per Zoom, korrespondensie rakende probleme word na JOC’s deurgegee en waar nodig met die Provinsiale Kommissaris van die SAPD opgevolg, asook na Agri SA vir opvolg op nasionale vlak.

- Wat VL NIE kan doen nie: namens sy lede met banke, versekeraars, ens. beding nie. Lede/ landbouers moet self  hul eie reëlings tref volgens hul eie behoeftes.

Soos met die droogte, is die advies wat banke, landboubesighede en versekeringsmaatskappye aan VL gegee het is dat landbouers vroegtydig persoonlik met hul bankier/makelaar moet gesels om ’n plan te maak. Landbouers word aangeraai om nooit kritiese polisse (soos lewensversekering en medies) te kanselleer of vir te lank nie te betaal nie, maar eerder reëlings sal tref vir betalings uitstel. 


Ruraflex kan straks probleme rondom meterskatting uitskakel 

Kliënte wat elektrisiteit vir boerdery aktiwiteite gebruik, het die opsie om hul gebruik vanaf Landrate na Ruraflex te verander.

Vanaf 1 April 2020 sal die RURAFLEX tarief ook >16kVA insluit. Dr Jack Armour, Operasionele Bestuurder van Vrystaat Landbou (VL), meen dat aangesien die tarief voorsiening maak vir afstandbeheerde meterlesings (remote metering) dit probleme rondom meterskattings kan uitskakel.

’n Aanbieding wat die tarief heffings vir LANDRATE en RURAFLEX vergelyk sowel as die voordele en kostebesparing is hier beskikbaar. (Vir die vergelyking is ‘n voorsiening grootte van 25kVA teen ’n  gemiddelde gebruik van 1500kWh gebruik.) 

Vir advies en berekening van die oorskakelingskoste, kan 'n versoek gerig word via die kliënte kontaknommers onder aan u rekening en 'n ESKOM adviseur sal met u skakel.