Digicoms

Nuusflitse - April 2020 - Veiligheidsverteenwoordigers ontevrede met Vrystaat Kriminele Strafregstelsel

 Veiligheidsverteenwoordigers ontevrede met Vrystaat Kriminele Strafregstelsel  

Die Kriminele Strafregstelsel (KRS) in die Vrystaat, wat Justisie (landdroste) en die Nasionale Vervolgingsgesag/ aanklaers insluit, se funksionering is nie voldoende nie.

 

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou(VL), noem dat talle bekommernisse na vore gekom het uit ’n opname wat VL onlangs onder sy Veiligheidsverteenwoordigers gedoen het. Die opname het hoofsaaklik oor die Landelike Beveiligingstrategie (LBS) gegaan. Die grootste meerderheid van die Veiligheidsverteenwoordigers (90,8%) het aangedui dat hulle nie tevrede is met die funksionering van die Kriminele Strafregstelsel (KRS) in die Vrystaat nie.

Die opname het ook aangedui dat die veiligheidsverteenwoordigers meen die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) beskik nie oor genoegsame hulpbronne om misdade in die landelike gebiede te bekamp of te bestry nie (96,25%). Dit is veral die afdelings sigbare polisiëring (Sigpol) en misdaadintelligensie se vermoëns (60,25%), gevolg deur die speurders (55,12%), met wie die grootste probleme ondervind word. Veiligheidsverteenwoordigers is van mening dat Sigpol so vinnig as moontlik die misdaadtoneel moet besoek (83,33%), dat hul spesialiste moet laat uitkom na die misdaadtoneel (56,94%) en dat ’n volledige A1-verklaring by die landbouer afgeneem moet word (54.17%). Veiligheidsverteenwoordigers meen ook dat opleiding t.o.v. misdaadtoneel-bewaring en ondersoek binne polisiegeledere tekort skiet.

Daar is ‘n behoefte uitgespreek dat strenger dissipline binne die polisie sal plaasvind, veral t.o.v. bevel, beheer en verantwoordbaarheid van voertuigbestuurders. Beriggewer-netwerke en misdaadintelligensie se vermoëns in landelike gebiede moet verkieslik uitgebrei word.

Verdere bevindinge wat vanuit die opname na vore gekom het

  • Veiligheidsverteenwoordigers is dit eens dat die grootste tekortkominge wat ondervind word t.o.v. veediefstal opgesom kan word as:
  • die spoedige bywoning van die misdaadtoneel deur die speurders is (veediefstal, opvolg van inligting, spore, terugkry van vee, arrestasies – 84,51%)
  • die ontbied van die hondemeesters/deskundiges na die misdaadtoneel (59,15%)
  • gereelde terugvoer en kontak aan die klaer deur die speurder (57,75%).

Verder is dit gemeld dat die vroeë afsluiting van dossiere as onopgespoor, sonder die doeltreffende opvolg van inligting by bure, plaaswerkers en in dorpsareas problematies is. Dit blyk ook dat  vergelykings en verbindinge van sake om kriminele vas te trek nie gedoen word  nie.

  • Op die vraag oor hoe misdade deur die polisie aangespreek moet word, was die persepsie oorwegend dat meer kundige personeel bendog word. Ondersoek van misdade/sake, die verbinding van sake (70,51%), gevolg deur groter sigbaarheid i.t.v. mannekrag en voertuie in landelike gebiede (60,26%) is uitgewys. Verder is ‘n behoefte vir beter funksionering van die strafregstelsel met genoegsame bewyslas en swaarder vonnisse in howe (53,85%) uitgespreek.
  • 87,01% van die Veiligheidsverteenwoordigers het aangedui dat hulle nie tevrede is met die funksionering van die howe in die Vrystaat nie. Die grootste frustrasie wat hul ervaar is dat sake gereeld uitgestel word (81,33%), dat borg aan gewoonte-misdadigers gegee word (66,67%) en dat sake in die howe te lank vat om afgehandel te word (64%).

Verder was dit gemeld dat onopgeleide en onbevoegde aanklaers problematies is, veral t.o.v. terugtrek van sake waar genoegsame ondersoek en bewyslas ontbreek. Dit is ook kommerwekkend dat pleitooreenkomste aanvaar word waar sekere kriminele vrygelaat word om steeds met hul misdade voort te gaan.

  • Die opname het getoon dat die grootste misdaadbedreiging in landelike gebiede veediefstal (94,59%) is, gevolg deur plaasaanvalle/ ernstige geweldsmisdade (51,35%) en skroot- koper- en kabeldiefstal (47,30%).
  • Op die vraag wat landbouers moet doen om misdaad effektief in hul area aan te spreek, was die antwoord dat hulle eerstens hulle eie veiligheid moet opskerp (verharding van huis en haard) met pro-aktiewe alarmstelsels (86,11%); dat hul moet inskakel by ’n landbouvereniging, sektore of veiligheidsnetwerke (73,61%); dat hulle betrokke moet raak by gemeenskapspolisiëring soos die ry van wit- en bloulig patrollies (72,22%) in landelike gebiede.
  • Ten einde veediefstal te voorkom, het die opname die noodsaaklikheid van ’n veeregister asook die gereelde tel van vee bevestig (68,18%). Verder is dit ook belangrik dat vee gemerk moet word na gelang van wetgewing (69,70%) en dat alle misdade spoedig aangemeld moet word by die polisie vir effektiewe ondersoek (62,12%).
  • Op die vraag wat Veiligheidsverteenwoordigers van georganiseerde landbou strukture verwag, was die mees algemene antwoord ’n ondersteuningsrol tot die strafregstelsel t.o.v. bekamping en voorkoming van misdade op landbougrond (67,18%), gevolg deur druk op die strafregstelsel vir meer mannekrag en toerusting in landelike gebiede (veral die skep van ’n landelike beveiligingseenheid) (57,81%) en die daarstel van kamera-netwerke in landelike gebiede met behulp van Agri Securitas befondsing (56,25%).
  • Op die vraag wat landbouers/Veiligheidsverteenwoordigers van die RPO/NKWV/bedrywe verwag, dui dit eerstens op die daarstel van ’n naspeurbaarheidstelsel vir diere-identifikasie (60%). Daar is verder ‘n behoefte getoon vir opleiding en hulp aan opkomende landbouers by kommunale areas t.o.v. die merk van vee, inligting oor siektes, ens. (50%). Die bedryf van provinsiale Veediefstal-voorkomingsforum met alle rolspelers (55%) is ook uitgewys.