Nuusflitse – Februarie 2020 - Betrokkenheid en samewerking in Oos-Vrystaat deur VKB beklemtoon

Betrokkenheid en samewerking in Oos-Vrystaat deur VKB beklemtoon 

Vrystaat Landbou (VL) het op 27 Februarie 2020 ’n bekendstelling geleentheid van die VKB Sentrum vir Landbou Ontwikkeling in Reitz bygewoon. Die gedagte met die sentrum is dat VKB ʼn fasiliterende rol in sy bedieningsgebied speel om aktiewe leierboere in landbou ontwikkelingsaksies bymekaar te bring om ʼn raad te vestig om suksesvolle grondvlakaksies uit te brei. Dit word gedoen met ontwikkelingsfondse wat wel beskikbaar is of deur SEB of ontwikkelingsagentskappe. 

 

Vier stories van kommersiële boere in die VKB bedieningsgebied is gedeel om die werklike betrokkenheid van kommersiële landbou in die Oos-Vrystaat uit te wys. 

Gert Bester van Petrus Steyn het sy storie gedeel van hoe hy van niks begin het en deur in ’n vennootskap te boer kon kom tot waar hy nou is. Hy droom van ʼn Suid-Afrika waar almal werklik van mekaar sal kan leer deur sulke vennootskappe, maar om dit te doen moet ons eers mekaar leer ken en vertrouensverhoudings bou. 

Wessel Bibbey van Petrus Steyn/Frankfort-area het vertel van sy plaaswerkerstrust wat die Here hom gelei het om te doen en hoe hy nou drie gegradueerde studente elke jaar in diens neem om werklike plaasondervinding op te doen as deel van die ADAMA projek. Een van sy studente, ʼn jong mnr Sikho, het met lof gepraat van wat hy reeds by Bibbey geleer het. Sikho het sy hoop uitgespreek om ook eendag self suksesvol te kan boer en dan ook jongmense ʼn soortegelyke kans te bied. Bibbey se storie kan op https://landsummit.co.za gesien word.

Dirk van Rensburg het gepraat oor die belangrikheid om werklike behoeftes in die plaaslike gemeenskap te identifiseer deur met jou werkers daaroor te gesels, hulle te betrek en te bemagtig om ʼn verskil te maak. Sy boerdery het begin om jaarliks 10 ton mielies te laat maal en vir die armstes van die armstes uit te deel wie sy werkers in samewerking met kerke en skoolleiers geïdentifiseer het. Hulle het na aanleiding van ʼn artikel in VL se nuusflitse met die Departement van Landbou in verbinding getree oor die groentetuin-projek wat deur Christa Klinck (Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.) gekoördineer word. Na inligtingsessies, opleiding en die uitdeel van saad en toerusting deur die department, was projekte egter nog nie suksesvol nie. Van Rensburg het toe met sy werkers daaroor gesels en hul verantwoordelik as mentors oor ʼn paar projekte beklemtoon. Die projekte het mooi begin werk en vandag in Arlington se arm woonbuurte is daar ’n paar pragtige groentetuine soos Van Rensburg met foto’s gewys het.

Coenraad Fick, Voorsitter van VKB se raad, se kernboodskap was “keep it simple!” en “just do it!”. Hy het gesê grondeienaarskap is belangrik, ons kan nie langer wag nie  en ons doen wat ons doen vir ons volgende geslagte. Hy beklemtoon dat boerdery nie ʼn vinnige en maklike manier is om geld te maak nie. Sy eie boerdery is ʼn familiebesigheid wat oor 109 jaar opgebou is. Hy het vertel van sy vorige werker, Samson Matlaba, wat hy gehelp het om sy eie grond te huur en vir wie hy as ʼn vriend nog mentor. Hulle het dit net gedoen, sonder die regering en op volhoubare markprinsiepe. 

Denton Osler van Denbi Aspersies (sien hulle pragtige sukses storie by www.denbi.com) het hom omring met die trotse boere van QwaQwa en Rosendal. Sy boodskap was dat in enige vennootskap moet alle partye glo in die einddoel, dit moet ʼn wen-wen vennootskap wees en die hele waardeketting waarin die vennote betrokke is moet heeltemal deursigtig wees.

Mnr Letuka, wat namens die Tswelopele Asparagus Coop gepraat het, was baie trots op hul produk. Qwaqwa Green Asparagus, wat 60 ha huur waarop hulle plant, het ook bevestig “less talking and more work!”. David Thamae van die Rosendal Job Creation Co-op het ook met trots en dank gepraat van Denbi, VKB en sy mentor Francois Crouse.

Nakana Masoka, Sekretaris-generaal van AFASA Nasionaal, het die inisiatief geprys en ten volle ondersteun. Hy gesê hy hoop vir ʼn soortgelyke inisiatief in die Kroonstad-omgewing waar hy self boer. Hy het VKB genooi as hoofspreker na ʼn groot AFASA boeredag op Mofumahadi Mopedi (Konings-moeder van die Mopedi stam in Qwaqwa, asook Voorsitter van AFASA vir die Thabo Mofutsanaye Distrik) se plaas in Warden, waar VKB haar gehelp het om suksesvol te boer. Masoka het gesê met die tragiese plaasaanval op leier vroue-boer Mimie Jacobs in Soutpan die naweek van 22 Februarie 2020 het hy besef “ons as boere sal moet saamstaan om die probleme van ons land op te los”. Die dag se stories, asook die landelike beveiligingsstrukture wat hy (Masoka) ervaar waar hy boer, wys dit is moontlik.