Nuusflitse – Februarie 2020 - Wit- en bloulig operasies help om misdaad te voorkom, sê Buys

Wit- en bloulig operasies help om misdaad te voorkom, sê Buys 

 

Die sigbaarheid van die polisie en landbougemeenskappe speel ’n groot rol in die voorkoming van misdade op landbougrond.

Volgens dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou (VL), is dit daarom belangrik dat wit- en bloulig operasies plaasvind. Sy sê dit wil voorkom of hierdie operasies in sekere areas verwater het, aangesien daar nie altyd arrestasies plaasvind nie.

Nóg ’n moontlikheid is die persepsie dat inligting van sulke operasies aan misdadigers uitlek en daar dan geen beweging op paaie plaasvind nie.

Versoeke vir wit- en bloulig operasies moet aan die Suid-Afrikaanse Polisiediens se landelike veiligheidskoördineerder gerig word, sodat dié operasies op kort kennisgewing kan plaasvind of verander.

Buys beveel aan dat dae en tye waarop inoefeninge plaasvind verkieslik gereeld wissel om doeltreffendheid te verseker. Diegene wat aan wit- en bloulig operasies deelneem, word versoek om nie onverantwoordelik op te tree nie siende hulle aanspreeklikheid sal moet aanvaar indien probleme ontstaan.