Digicoms

Nuusflitse – Februarie 2020 - Nasionale minimum loon verhoog só vanaf Maart

Nasionale minimum loon verhoog só vanaf Maart 

 

 

Die nasionale minimum loon (NML) is op 1 Maart 2020 verhoog met 3.8% en werknemers in die plaaswerkersektor se uurlikse tarief sal dan R18.68 per uur beloop.

Volgens Gernie Botha, Regsadviseur van Vrystaat Landbou (VL), is daar dikwels vrae oor wat die maandelikse of weeklikse bedrag beloop en in hierdie opsig is dit belangrik om te onthou dat die maandelikse bedrag betaalbaar afhang van die aantal ure per dag, asook die aantal dae wat per week gewerk word. Die basis van R18.68 per uur moet dus vermenigvuldig word met die aantal ure wat per dag gewerk word en hierdie syfer dan weer met die aantal dae wat per week gewerk word. Die maandelikse bedrag betaalbaar word verkry deur die weeklikse bedrag betaalbaar met 4.33 te vermenigvuldig volgens die voorskrifte van die Sektorale Vasstelling vir Plaaswerkers.

Botha noem dat die berekening van die maandelikse loon betaalbaar ten opsigte van ’n 9 uur werksdag van toepassing op ’n 5 dag werksweek in praktyk as volg daaruitsien:

R18.68 x 9 = R168.12 per dag (9 ure per dag)

R168.12 x 5 = R 840.60 per week (5 dae)

R840.60 x 4.33 = *R 3639.80 per maand.

* Let asseblief dat hierdie berekening gebasseer is op ’n 9uur werksdag en 5 dae per week se werk.

Die NML is nie terugwerkend tot 1 Januarie 2020 nie.