Nuusflitse – Februarie 2020 - Maak só met grondbesettings

Maak só met grondbesettings 

 

 

Die Landelike beveiligingstrategie (LBS), in samewerking met die polisie en landbougemeenskappe, maak voorsiening vir die doeltreffende hantering van onwettige grondbesettings. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) se Nasionale Instruksie 7 van 2017 “Unlawful occupation of land and evictions” sit die polisie se verantwoordelikhede vanaf grondvlak tot by provinsiale vlak uiteen. Daar is ook ’n provinsiale instruksie vir die Vrystaat wat in 2018 deur adv. Lane van die SAPD opgestel is.

VL se veiligheidshandleiding bevat ’n konsep gebeurlikheidsplan van hoe ’n grondbesetting aangespreek moet word.

Dr Jane Buys, Veiligheidsrisiko-analis van Vrystaat Landbou, noem dat dit noodsaaklik is om enige inligting rakende ’n grondbesetting dadelik aan die plaaslike polisie, sowel as die veiligheidsverteenwoordiger van georganiseerde landbou, deur te gee (aanmelding van ’n betredingsklagte).

Buys beveel aan dat foto’s en video’s van ’n moontlike grondbesetting geneem moet word en aan die polisie oorhandig moet word as bewysstukke. Landbouers word ook versoek om hul werkers/bewoners op plase te sensiteer om enige inligting rakende enige moontlike grondbesetting aan hul te rapporteer.